14/10/2025
𝗢𝗡𝗦 𝗕𝗢𝗘𝗥𝗣𝗘𝗡 & 𝗣𝗟𝗔𝗔𝗦𝗪𝗬𝗦𝗛𝗘𝗜𝗗
Ons gee ons pen oor aan 𝗛𝗮𝗻𝗻𝗲𝘀 𝗡𝗼ë𝘁𝗵
Lees gerus:
13 Oktober 2025
Liewe Leser
Aan ons boere – dankie…
Vir hierdie week se skryfstuk neem ek die pen op van Hilde Kruger, wat ’n voorreg.. Sy staan so ’n bietjie terug en vra dat ek hierdie geleentheid gebruik om ‘n brief spesifiek aan ons boere te rig. Ek doen dit graag. Baie graag. Wie van ons voel nie besonder naby aan ons landbouers en hulle gemeenskap nie?
Self word ek op die plaas groot; my pa het geboer, my broer het geboer, my ooms boer, my neefs boer... oor geslagte. Is dit nie maar die storie van amper al ons Afrikaners nie. Ons bloedlyne is vol van boerebloed. Iewers, en jy hoef nie ver terug te gaan nie kruis jou pad die bekendheid en die huis-gevoel van ‘n plaas, van boer, van moerkoffie in die kombuis, van eiers uithaal en koeie melk, van ploeg en plant, van voorsien. En ja, van sukkel en weer opstaan, van lag en dankbaar wees. Daarom is dit vir my ‘n voorreg en lekker om hierdie week Hilde se pen te kan opneem.
En wat skryf ek vir ons boere? Ai, die tye het baie verander. Of ja, ons ken die sukkel van ‘n plaas. Of oor die droogte en dan die vloede, van lae pryse en dan weer siektes. Oor plaasveiligheid, pas julle op asseblief. Natuurlik sal dit alles reg wees en ek kan daarop uitbrei. Maar vandag wil ek nie. Vandag wil ek Hilde se pen gebruik om vir julle dankie te sê.
Nie ligtelik dankie nie. Opreg dankie. In my grootword jare, as ‘n Dopper-seun, het die mense gespot en gesê Doppers sê nie dankie nie, hulle rig ‘n woord van dank. Nou ja, dan doen ek dit vandag so. Dan rig ek ‘n woord van dank. Opreg en uit my hart. Namens almal van ons wat soms vergeet om dankie te sê.
Ek rig ‘n woord van dank tot julle wat vir ons die plase bewoon en bewerk. Ek sê dankie vir elke bord kos en ek sê dankie vir elke opoffering en stukkie tyd wat die plaas van julle vra. Dankie vir hartswerk. Dankie dat boer vir julle ‘n werkwoord is, maar ook ‘n roeping.
Dankie vir vleis, vir groente, vir vrugte, vir eiers en vir melk, dankie vir produkte en kwaliteit daarby. Dankie dat julle die hart van ons menswees is en bly en dankie dat julle nog aanhou na baie van ons sou ophou. Dankie dat julle nog naby die natuur leef en daardie met ons deel. Dankie dat ons op die plaas mag kom kuier terwyl julle werk en dankie dat julle regtig hard werk.
Ek kan lank skryf en baie uitbrei, maar ek wil nie. Ek wil dit kort hou. Maar kragtig. Aan elke boer in ons land: Dankie...dankie dat jy vir ons kosbaar is. Jammer dat ons te min dankie sê. In gebed: Dankie, Here, vir elke boer in ons land. Ons ag hulle kosbaar. En hulle vrouens en hulle kinders. “Seën ons plase, Here, seën hulle...”
©Ineffable Digital Designs 2025