14/08/2020
Help, my kind is anders!
- Raad vir nuwe ouers
Die waarneming dat jou kind anders is as sy/haar portuurgroep, is kommerwekkend vir enige ouer. Hierdie plasing is vir ouers wat so ʼn waarneming ten opsigte van hul kind gemaak het, en nou met algemene vrae worstel.
Onsekerheid – miskien is dit niks?
Alhoewel, veral eersteling, ouers hulself gereeld onnodig bekommer, is dit belangrik om te onthou dat niks ooit spontaan sal verbeter nie. Jou kind se eerste 5 lewensjare is krities vir brein-ontwikkeling. Daarom is dit noodsaaklik om vroëer, eerder as later, met kundiges in gesprek te tree.
Eenvoudig gestel… as jy wonder of jy met ʼn kundige moet gesels, is dít juis die teken dat jy dit moet doen. Slegs wanneer ʼn kundige bevestig dat jou kind se ontwikkeling op koers is, kan jy jou bekommernis toeskryf aan ʼn oorreaktiewe disposisie.
Ontkenning
Die gedagte dat jou engel-kind dalk anders mag wees, en die moontlike gevolge daarvan, is so vreesaanjaend dat jou hart na enige teken van die teendeel sal probeer gryp. Daarom is ʼn persoon wat met ontkenning sukkel, aanvanklik onbewus daarvan.
Om jou te help om dit te identifiseer, wil ek twee, baie subtiele, tekens van ontkenning met jou deel.
Indien jy jou bekommernis met iemand deel, maak mense dit maklik af as niks. Wanneer jy te veel waarde heg aan ʼn oningeligte en onervare persoon se opinie, is daar fout. Veral as jy dit gebruik as die rationaal om die situasie nie verder te verken nie.
ʼn Tweede teken van ontkenning, is ʼn heftige emosionele reaksie wanneer iemand wat vir jou omgee, hul eie waarneming of bekommernis, in terme van jou kind se ontwikkeling, met jou deel. Die intense woede is soos ʼn spreekwoordelike damwal van onderdrukking wat bars. Soos jy dalk reeds weet, vorm beide, ontkenning en woede, deel van die normale rou proses (maar later meer daaroor).
Hoe vinniger beide ouers verby die ontkenningsfase beweeg, hoe beter vir die hele gesin.
Waar begin ek?
Evaluasie(s)
Die gewaarwording dat jy iewers in ʼn onbekende plek (in jou lewe) is, is angswekkend. Net soos wanneer jy verdwaal het, is die eerste prerogatief om te bepaal waar jy jouself bevind. ʼn Formele evaluasie deur ʼn (ervare) kundige is die eerste stap. Wanneer jy weet wat fout is, kan jy jou (kind se) posisie op die, spreekwoordelike, spesiale-behoefte-kaart plot.
Evaluasie, of assessering, is ʼn manier wat kundiges gebruik om te bepaal of ʼn kind van die norm afwyk. Dit beoog ook om die mate van afwyking te kwantifiseer en die probleem area te identifiseer. Hierdie uitslae word gebruik om ʼn gepaste ontwikkelingsplan en/of behandeling strategie vir elke kind te formuleer.
Hierdie evaluasie kan ʼn bykomende voordeel inhou, mits dit deur ʼn kundige gedoen word wat ʼn amptelike, definitiewe diagnose mag maak. Die amptelike diagnose kan gebruik word om toegang tot staatshulp, spesialis dienste en spesiale skole te verkry.
Omdat medici streng gereguleer word, het elke kundige ʼn bepaalde professionele sfeer waarin hy/sy mag beweeg. Daar is wetgewing wat bepaal wat elke professie mag, en nie mag doen nie. Daarom mag sekere kundiges nie ʼn amptelike, definitiewe diagnose maak nie.
Aan die ander kant, is daar kundiges wat wel ʼn defnitiewe diagnose mag maak, maar wat nie regtig spesialiseer in die gebied van spesiale behoefte assessering nie.
Die ideaal is, om ʼn kundige te kry wat baie ervaring ten opsigte van spesiale behoefte bepalings het, maar wat ook ʼn amptelike, definitiewe diagnose mag maak. Verder behoort die ideale kundige deel te vorm van ʼn professionele ondersteuningsnetwerk wat bestaan uit ʼn verskeidenheid ervare terapeute, tutors en komplimentêre spesialiste… maar jy het ʼn beter kans om ʼn unicorn te vind.
Pediatriese neuroloë, kliniese- en kinder sielkundiges, psigiaters, pediaters, mediese- en homeopatiese dokters mag ʼn definitiewe diagnose maak. Arbeidsterapeute en opvoedkundige/skool sielkundiges mag evaluasies doen maar mag nie ʼn definitiewe diagnose maak nie.
Kinder-ontwikkeling is ʼn komplekse vakgebied en daarom vind kundiges dit soms moeilik om ʼn defnitiewe diagnose te maak. In so ʼn geval kan jy verwag dat daar nog evaluasies kan volg op ʼn latere stadium. Begin dadelik met proaktiewe terapie. Moennie dit uitstel as daar nog nie ʼn definitiewe diagnose beskikbaar is nie – jy (en terapeute of tutors) behoort reeds genoeg te weet om te kan begin.
Diagnose
Die aanhoor van ʼn diagnose laat ouers gewoonlik met ʼn diep sin van verlies. Dit is ʼn tydperk van gemengde emosies. Aan die een kant, is dit ʼn verligting om te weet wat fout is, en aan die ander kant verpletter dit die gedagtes wat jy gekoester het oor jou kind se toekoms. Dit is heeltemal normaal om te rou vir jou kind in hierdie situasie.
Jy sal later besef dat die diagnose jou ook bemagtig. Jy kan nou begin om jouself, en ander mense, daaroor in te lig. Kinders met spesiale behoeftes se gedrag affronteer soms oningeligte omstanders. As jy wil, kan jy nou so ʼn geleentheid gebruik om bewusmaking te bevorder.
Ontwikkeling strategie/plan
Sodra jy en die kundige weet waarmee jou kind sukkel, kan daar ʼn ontwikkelingsplan opgestel word om by jou (en jou kind se) behoeftes te pas. Ongeag die diagnose, is hoofstroom opsies beperk tot arbeidsterapie, spraakterapie en medikasie.
Dit is belangrik om te verstaan dat medikasie (selfs homeopatiese medikasie) nie ʼn kuur vir enige spesiale behoeftes is nie, maar slegs kan help om sekere simptome te bestuur. Hiperaktiwiteit, afleibaarheid, en aggressie wat gereeld gepaard gaan met spesiale behoeftes, maak terapie baie moeilik. Wanneer ʼn kind dan minder “besig” of “moeilik” is, kan hy/sy meer by die bepaalde terapie baatvind. Medikasie kan dus ʼn wesenlike, positiewe verskil maak wanneer dit aangedui word – oorweeg dit.
Ten spyte daarvan dat terapeute, in dieselfde professie, dieselfde kurrikulum gevolg het tydens hul studies, verskil hul benaderings en persoonlikhede. Vertrou jou instink om die regte terapeut en benadering vir jou, en jou kind, te kies. As jy ongemaklik voel, skuif.
Buiten die hoofstroom behandelingsregime is daar ander opsies ook.
Privaat tutors kan van onskatbare waarde wees. Hulle is dalk minder formeel, maar beslis nie minder georganiseerd of bekwaam as hoofstroom terapeute nie. Inteendeel, hulle het gewoonlik jare se praktiese ervaring in spesiale skole, wat hul benadering meer natuurlik, maar steeds gefokus, laat voel. Baie ouers vind meer aanklank by hierdie buigbare, alles-in-een, benadering. Tutors is nie so opsigtelik soos hoofstroom terapeute nie, daarom is dit bietjie moeiliker om hul op te spoor. Kleuterskooltjies en ander ouers, met spesiale behoefte kinders, behoort jou hiermee te kan help.
Daar is heelwat ander alternatiewe terapieë, maar meer daaroor in ʼn volgende plasing.
Jy, die ouer, moet eienaarskap van jou kind se ontwikkeling neem. Aanvanklik, terwyl jy nog leer en aanpas, gaan jy hoofsaaklik net ʼn ondersteunende rol speel. Sommige ouers word egter later so bekwaam, dat hul self ʼn, alles-in-een, tutor vir hul kind kan word. Hoe meer betrokke jy kan wees, hoe beter.
Ondersteuningsnetwerk
Die realiteit is dat jou gesinslewe onherroeplik verander het. Dit is nie ʼn tydelike situasie nie. Dit het ook nie ʼn oplossing wat jou in staat sal stel om jou vorige lewenstrajek weer op te neem nie. Hierdie is die begin van ʼn reis na die onbekende. Daar is geen eindbestemming nie, maar daar is ʼn verskuilde vreugde te vinde in ʼn gemeenskap van reisigers wat saam lag en huil.
ʼn Persoonlike ondersteunersnetwerk is uiters belangrik – alle ouers van kinders met spesiale behoeftes sal daarvan kan getuig. Een mamma het dit só gestel: “Omring jouself met mense wat bereid is om jou te ondersteun wanneer dit moeilik raak, want dit gaan moeilik raak… Dis baie belangrik vir ouers (/voogde) van spesiale behoefte kinders om ‘n blaaskans te kry op, ten minste, ‘n weeklikse basis. Jy kan nie vir iemand sorg as jy self uitgebrand is nie.”
Algemene raad
Ten voorbereiding van hierdie plasing, het ek vir ander ouers wat reeds op hierdie reis is, gevra om raad te gee aan ouers wat sopas begin het. Die antwoord wat ek ontvang het, eggo my eie sentiment so goed, dat ek dit onveranderd hieronder wil plaas:
1. Kry daai diagnose. Dit help. Dit maak deure oop vir staatshulp, dit gee die “ding” ‘n naam; jy kan vir mense sê, “my kind is nie stout nie, dit is ”; jy kan by ondersteuningsgroepe aansluit en ondersteuning kry.
2. Stel ‘n ondersteuningsnetwerk op. Omring jouself met mense wat bereid is om jou te ondersteun wanneer dit moeilik raak, want dit gaan moeilik raak.
3. Kry vir jou kind die nodige terapieë, maar moet hom/haar nie te veel druk nie. Laat hulle toe om kinders te wees. Elke kind ontwikkel op hul eie tyd.
4. Laat gaan daai drome en fokus daarop om elke liewe daggie saam met jou kind ten volle te geniet. Vier die klein mylpale.
5. Maak tyd vir jou eggenoot. Die egskeidings-syfers onder spesialebehoefte ouers is hoog. Al die tyd en energie gaan in die kind in. Gesels met mekaar, ondersteun mekaar, “validate” mekaar. En maak tyd vir alleentyd met mekaar, gaan eet uit en moenie oor huis-probleme praat nie. Nou meer as ooit moet die huwelik gekoester word.
Krediet:
- Foto deur Jordan Whitt op Unsplash
- Al die ouers wat gewillig was om hul lewenservaring te deel