27/08/2021
• liewe J U F F R O U •
- deur Roelofsz
Ek wens jy kon net ‘n tree in my skoenne stap,
net ‘n tree in die oomblik wanneer jy kliphard gil en my konsentrasie op ‘n hoë spoed begin tap.
Jy skree harder en praat stadiger met die hoop dat ek,
“ die stoute kind ”
jou dalk beter sal hoor,
die waarheid is, jy en die res van die onnies het sopas my aandag vir die res van die dag verloor.
Ek KAN NIE stil sit in jou klas nie,
dit is onmoontlik vir my om nie te vroetel nie.
Dit is my manier om van die geraas af te sny,
al die geluide klankloos vir jou maar senutergend vir my.
My gevroetel verdoof die geraas om my,
irriterend vir jou maar belangrik vir my.
Juffrou, ek kan aanvoel jy is raadop en moedeloos,
net jou “kyk” alleen laat die onskuldige ek, onnodig skuldig voel met wange wat bloedrooi bloos.
Jou teenwoordigheid alleen maak my baie angstig,
my maniere gee jou die indruk ek is balhorig en parmantig.
Juffrou, ek is nie balhorig en parmantig nie,
Juffrou ek kan nie JOU woorde en al die ander geluide om my terselfdetyd inneem nie.
Hoe verwag jy dan ek moet?
jy wil nie hê ek moet my “coping-tools” gebruik nie want dit is moeilikheid soek.
My maats lag van lekkerte wanneer ek uit bars in trane,
met naels bytend in my palms moet ek luister na al my nuwe spotname.
My tas word op ‘n daaglikse basis deur maats geskop,
baie slim want hulle weet net hoe om my aandag uit te lok.
Ek stap uit my klas en sien my tas is vol sjokolade gesmeer,
ek wil uit volle bors skree van woede terwyl ek veg om die trane te keer.
Ek is dom, loop verkeerd, praat verkeerd en sit verkeerd,
my gesig, neus, mond en hare is “weird”...
Die woorde wat hulle spreek en teen vanmiddag vergeet,
is woorde wat ek vir ‘n baie lang tyd nie sal vergeet.
Daar word klippe in my tas tussen periodes gepak,
net nog ‘n rede om my moed finaal te knak.
Die gedagte los my wange nat met traan,
ek is ‘n mens net soos hulle met ‘n regte Naam.
My keel trek toe, my oë dam op,
al wat ek hoor is die gedruis van my vinnige hartklop.
Een van die maats STAAN en werk in die klas,
sy wil nie langs my sit nie, sy is seker gemaak van glas.
Wanneer ons klasse wissel is daar altyd oë op my,
die bul bakke fluister vir mekaar: kyk, daar loop hy.
Wanneer ek kamer verlaat word ek vas gedruk in die toilet,
ek is mos die een vir wie almal hul mes in het.
Ek is NIE “stadig” nie,
ek het nie gevra vir al hierdie drama nie...
Ek is bekend as die “freak” wat ‘n pilletjie nodig het,
die pilletjie wat almal duidelik net TE VEEL oor tesê het.
Elke tweede persoon gee vir mamma altyd “raad”,
askuus tannie, sê my: het jy ń Dr’s graad?
Ek het nuus vir jou wat d**k my ouers moet dit uit my uit slaan,
gaan doen weer jou huiswerk Oom, want jy “ruk” nou jou naam.
Hierdie is net ‘n tree in my skoenne, liewe Juffrou,
ek hoop juffrou kan eendag waarlik inneem en besef waaraan ek elke liewe dag moet “kou”.
Daar is soveel meer waarmee ek worstel na net die 1ste tree,
ek probeer eerlik waar met alles in my om net my beste te gee.
..vannaand wanneer die wêreld rustig afsluit na ‘n besige dag,
lê ek en mamma op ‘n nat kussing in die middel van die nag.
Sy probeer haar bes tussen woorde van bemoediging om haar trane weg te steek,
maar ek kan hoor hoe haar stem saggies met elke woord breek.
Liewe Juffrou:
Met trane in my oë gaan ek jou vandag vra,
Wat kan jy en die skool doen, sodat kinders soos ek en hul ouers nie nodig het om hierdie laste te dra?Ek hoop Juffrou sien wel eendag raak,
dat Juffrou die een is wat hier ‘n verskil kan maak.