17/07/2025
*HARDE WERK en OMGEE MAAK 'n VERSKIL*
Daar was twee regtig uitstaande gebeurtenisse die afgelope maand wat 'n verskil aan lewens in ons gemeenskap gemaak het. The Dogs of War (DoW) motorfietsklub se gholf- en markdag op 5 Julie 2025, wat met 'n langarmdans afgesluit is en Henk Smit van Dollar Promosies, met sy lootjiekaartjies wat 'n allemintige prys ter waarde van R6000 op die spel gehad het.
Die DoW motorfietsklublede het 'n dag propvol aktiwiteite by die Kleinbaai Gholfklub aangebied. Ten spyte van ysige weerstoestande, gepaardgaande met wind en reën, het klublede voluit gegaan en potte vol heerlike kos en lekkernye vir die groot markdag voorberei. Die gholfspelers het in goeie gees afgeslaan, die waterpunte was prettig en in die saal het plaaslike entrepreneurs 'n verskeidenheid van produkte te koop aangebied. Daar was kerse, klere, kuns en kinderspeelgoed, om maar 'n paar te noem... en kos - baie en heerlike, goed voorbereide etes wat fynproewers na meer laat vra het... en baie prominent het 'n kruiwa in die kuierkroeg gestaan met 'n vrag van verskeie soorte drank, netjies toegedraai in sellofaan. Dit was Henk Smit, die oom in die drankhandel, se inisiatief en hy was nie skaam om daardie kruiwa vol te pak tot by die punt waar die bottels kon begin aftuimel nie. Meer hieroor, later.
*Veterane is DoW se mikpunt*
Die DoW motorfietsklub se fondsinsameling word aangewend vir behoeftes onder gewapende magte veterane. 'n Groot handeklap vir hierdie span wat 'n al hoe groter impak in ons gemeenskap maak. Julle meelewendheid en harde werk word raakgesien.
*Gholfdagwenners*
Die prysuitdeling was 'n raserige affêre, maar *GansbaaiCourant* kon darem die eerste drie spanne se name opspoor. *1ste plek:* Team Tessie met C. Bischoff, J. Bischoff, W. Dailey en Jamie Bischoff.
*Tweede Plek:* Bakoorjakkals met V. Hunt, G. Hunt, B. van der Merwe en N. Groenewald.
*Derde Plek:* Gansbaai Josters met A. Dalgleish,
N. Jones, Juan en Vincent. (Vanne was nie beskikbaar nie)
*Langarmdans*
Die DoW-fondsinsamelingsdag is met 'n lekker langarmdans in die gholfklubsaal afgesluit. Die bedanking aan ons gemeenskap, wat 'n oop hand gehad het, volg onderaan die berig. Nie minder nie as nege en twintig borge het bygedra tot die suksesvolle aanbieding van hierdie grootse geleentheid.
*Kruiwatrekking*
Verlede Saterdagaand, 12 Julie 2025, is die wenner van die kruiwa by Buitesteen getrek. Dit was self een groot, jolige kuieraand.
Daar was 'n kompetisie tussen kaartjieverkooppunte, asook tussen die individuele kaartjieverkopers by die onderskeie besighede. Buitesteen het loshande as verkooppunt gewen. Ruan Hurn en Tiaan van der Merwe van Buitesteen het onderskeidelik die eerste twee plekke ingeneem met die meeste individuele verkope en Giuseppes se Bernie Venter, het die derde meeste kaartjies verkoop.
*Kruiwawenner*
Adele Steenkamp was oorstelp van vreugde toe sy as die wenner van die R6000 se kruiwawprys getrek word.
*Begunstigdes*
Van die begunstigdes uit die lootjieverkope was *Mattanja Living,* 'n nie-winsgewende versorgingshuis in De Wetstraat, wat R5 000 ontvang het. Mattanja Living spesialiseer in algemene bejaardesorg en maak voorsiening vir fisiese en gesondheidsuitdagings wat neurologiese afwykings insluit.
*Drie potspelspelers* (in die omgangstaal bekend as pool) wat later vanjaar aan die SA's gaan deelneem, het elkeen R3 000 ontvang om onkostes te help d**g.
*Dogs of War* se fonds is met R840 gestyf.
Daar is geweldige maatskaplike behoeftes in Suid-Afrika en Gansbaai kan opreg dankbaar wees vir mense soos dié wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en 'n verskil in ons gemeenskap te maak.
Foto' s verskaf deur: Riaan van Staden, Rian Conradi en Henry Ford.
*Artikel geskryf deur Marinda van der Walt, GansbaaiCourant WhatsApp nuusblad 🌱0825618655*