20/11/2022
Ek is dankbaar vir wie en wat ek vandag is en tipe 1 diabetes is deel daarvan.
Tipe een diabetes het sy groot uitdagings waarvan almal nie altyd bewus is nie, maar in die groot uitdagings getuig ek van God se oneindige genade.
Een van die grootste "mind battles" wat ek deurloop met tipe 1 diabetes, is die feit dat ek ń insulienpompie moet dra wat nogal sigbaar is en ń sensor moet dra wat definitief aandag daarop vestig. Ek is gedwing om te leer dat dit nie lelik is nie en dat ek eerder dankbaar teenoor ons God moet wees vir nuwe tegnologie. Ek het geleer (en doen steeds daagliks) dat dit ń seëning is- ń GROOT een.
Met sosiale media wat vra na perfeksie, modelindustrieë wat spog oor vlekkeloosheid en tydskrifvoorblaaie wat die "ideale" prentjie van die vrou skep, was dit (en is dit soms nog) moeilik om al die ekstras te aanvaar wat as detail ingeteken is in my prentjie. Dis wel waar mens die kop geveg moet aanvat en kies deur watter lens mens gaan kyk- deur ń lens wat seëninge raaksien of een wat alles as ń oordeel of las sien.
Ek vier vandag ń nuwe mentaliteit in die lig van diabete bewusmakings maand (November): ń seënings-mentaliteit.
Al jou "ekstras" is wat jou uniek maak in ń wêreld wat kopieë vier. Ek hoop JY vier JOU unieke prentjie, want dit is besonders en waarvoor duisende oë honger is- egtheid, unieke skoonheid om bietjie hoop te skep vir die wat in onrealistiese ideale verval het.
Ek is dankbaar vir tipe 1 diabetes wat my daaglik dwing om in nederigheid te loop en om my seëninge te tel en te waardeer.