30/04/2023
God se Anderster kind
Ek het twee kinders, Here. Die een is my maklike kind. My selfstandige ek-sal-okay-wees kind. My kind wat stil deur die lewe gaan en spatseltjies van U lig los orals waar sy voete loop. My reg-doen-sonder-om-te-wonder kind. Sy voete stap ‘n reguit pad. Ek slaap snags rustig oor hom, Here.
En dan is daar my wilde loot. My sukkel-kind. My anderster kind, Here. Ek glo elke mamma het so enetjie. Wanneer al die graad een boompies vol in blom staan, raak ek kinderlik opgewonde as ek net een knoppie aan hierdie boompie sien vorm . . . een stukkie groei kan raaksien. In die middae hardloop ons onsself moeg tussen arbeidsterapie en spraakterapie en dokters en medisyne. En wanneer al die maatjies al lankal speel, spartel ons nogsteeds met klanke en woorde en kleure wat net nêrens wil inpas nie.
Ek kyk met sagte oë na hierdie kind van my, Here. Hy pas nie in die boksies in wat die wêreld en die skool voor hom neersit nie. Hy speel op die trampoline met ‘n geknoopte kous vir ‘n swaard en hou oorlog teen drake en konings wat net hy van weet en kan raaksien. En o, hy wen elke keer. Ek kyk met sagte oë na hierdie kind van my, Here. Ek sien sy magteloosheid elke middag as die lettertjies voor hom nie in woorde en sinne wil verander nie. Ek voel sy bang wanneer dit voordra-tyd en leestyd is. En elke dag as hy skool toe gaan, sien ek die hoop in sy oë dat vandag ‘n goeie dag gaan wees. Hierdie kind is my anderster kind, Here. Hy is te groot vir die wêreld se boksies en die buitelyne wat vir hom getrek word. Hy leef voluit en genoeg, elke oomblik van elke dag. Hy is ‘n groot smile met ‘n klein stukkie lyf om. Dis net sy oë wat soms vertel van sy bang en sy bekommerd en sy vrae en sy onsekerwees. Hy pas nie in die lewe se boksie in nie, Here. So dikwels kom kruip hy so stil styf teen my lyf, asof hy vir ‘n klein rukkie net wil weet dis okay . . . hy is okay en genoeg.
U ken van anderster-kinders, né Here? Daardie kinders van U wat maar net nie in die lewe se boksies en buitelyne wil pas nie. Daardie kinders van U wat in hulle eie wêreldjies leef en beweeg. Wat anders d**k as die res van U kinders. Wat Tarsis toe gaan wanneer U sê Ninivé toe. Wat weier om te glo, as U nie eers vir hulle die merke in U hande wys nie. Wat sommer net instorm, sonder om te d**k, en dan kop- onderstebo sê hulle ken U nie.
Ek is een van U anderster-kinders, Here. Ek pas nie in die lewe se boksies en buitelyne nie. So baie dae, nes vir my kind, wil die lettertjies ook nie vir my in volsinne en woorde verander nie. So baie dae is ek ‘n groot smile met ‘n stukkie lyf om, maar die vrae kruip weg in my oë, Here. Hier diep binnekant wonder ek of U nog van my onthou. So baie dae d**k ek ek sal verstaan as U sommer net omdraai en wegstap, want ek sukkel om te glo soos almal om my glo. So baie dae wil ek sommer net so stil teenaan U kom staan . . . net voel en weet dat dat U nog daar is. Dat ek genoeg is.
Dankie Here. Dankie dat U met sagte oë na U anderster kinders kyk. Dankie dat U spesiaal terugkom om U hande en U sy vir ons te kom wys, sodat ons makliker kan glo. Dankie dat U ‘n stukkie vis braai en stil vir ons gee . . . en soos vir Petrus ook vir ons kans gee om te sê ons is lief vir U, al sê ons so dikwels ons ken U nie. Dankie dat U met sagte oë na U anderster kinders kyk, Here. Dankie dat U nie omgee om uur na uur na uur stil by ons te sit, totdat ons verstaan nie. Dankie dat U ons magteloosheid en onsekerwees altyd raaksien, dadelik raaksien . . . soos ‘n pappa wat Sy kind ken. En dat U dadelik daar is om ons toe te vou en veilig te hou. Dankie dat U ons verlang verstaan. Ons verlang na iets wat ons self nie altyd verstaan nie. Dankie dat U nie skrik wanneer ons so intens voel nie . . . ons hartseer, ons kwaad, ons bang, ons bly. Maar dat U deur elke stukkie voel langs ons sit, stil ‘n traan afvee en sê dis okay, ons vashou en sê dat U by ons is en nooit gaan weggaan nie . . . Dankie dat U saam met ons lag wanneer ons bly is. Dankie dat U nie skrik vir die denkbeeldige drake en monsters waarteen ons elke dag baklei nie.
Dankie dat U nie ‘n Boksie-God is nie. Here. Maar dat U ‘n plekkie maak vir elkeen van U kinders se anderswees. En dankie . . . dankie dat U nie buitelyne het nie. Dat U liefde en omgee en deernis en vashou nooit, ooit ophou nie. Maar dat dit ons toevou en veilighou in ‘n wêreld wat vir ons so baie onseker is. Dankie dat ons in U vashou kan wegkruip. En wanneer dit tyd is om weer die wêreld in die oë te kyk, is dit U wat langs ons stap. Ons hand styf in U Hand vashou. En trots vir die wêreld sê: Hierdie is My kind . . . Ek ken haar naam . . . en Ek sal haar nooit laat los nie.
Altyd, né Here? En dis genoeg.
Amen.
(Katrienkie@2023)