08/01/2026
Vanoggend sien ek hierdie prentjie en dit bring so ’n diep openbaring in my hart: Verandering begin van binne af.
’n Skoenlapper was eers ’n wurm. Binne-in die koekon vind die grootste transformasie plaas — sy word daar ’n skoenlapper. Maar om uit die koekon te breek, moet iets eers binne-in haar gebeur. Daar is ’n worsteling, ’n proses, ’n heilige spanning wat nodig is om die koekon oop te breek. En interessant genoeg: as iets van buite probeer help, breek die koekon nie reg nie.
Toe lê hierdie boodskap swaar op my hart:
Soms is ons lankal ’n skoenlapper, maar ons hou nog vas aan die koekon omdat dit gemaklik geraak het.
Elke mens se koekon lyk anders — hoogmoed, onvergifnis, selfgeregtigheid, afguns, verwerping… soms is dit nie eers iets “groot” nie, net iets wat bekend en gerieflik voel. En die gedagte aan verandering maak ons angstig. Maar om werklik vry te kom, *moet* die verandering binne-in jou hart begin.
Ek lees gister in *Psalm 51:12* dat die grootste offer wat ons vir God kan bring, ’n berouvolle hart en ’n gebroke gees is. Hoe ongelooflik mooi is dit? God soek nie perfeksie nie — Hy soek ons eerlike, rou, mens-wees. Daaruit bring Hy iets ongeloofliks voort.
Vandag wil ek jou uitdaag:
Vra God — wat is my koekon?
Soms is die antwoord nie lekker om te hoor nie. As die gedagte jou effens skaam maak, of jy d**k: “Kan dit rêrig dit wees?” — ja… dit is dan waarskynlik presies dit.
Jou koekon is nie altyd mooi nie. Maar dit wat daaruit voortkom, is.
As jy in 2026 ’n skoenlapper wil wees, is dit tyd om te vra wat jou koekon is — en om deur te breek, sodat ons kan beweeg na die blomtuine van seën en oorvloed. 🌸🦋
❤️ Like as hierdie met jou praat.